| Diensvolgorde | |
|---|---|
| Verwelkoming | André Kritzinger (Dré) vanuit Nederland |
| Lied vir Bepeinsing | “O love that will not let me go” |
| Gebed | Vivian Meyer |
| Lewensskets | Jannie Kritzinger |
| Spesiale Sang | “Stil verdwyn ‘n ander dag” (Violet en Dress Kritzinger) |
| Boodskap | Rian van Deventer vanuit Nieu-Seeland |
| Samesang | “O Jesus, I have promised” (begeleiding: Carissa van Deventer) |
| Huldeblyke | Geleentheid vir huldeblyke en video’s |
| Skyfievertoning | Brenda Taylor & Gerhard van Deventer |
| Bedankings | Errol Jansen |
| Slotgebed | Gert van Deventer |
O Jesus, I have promised to serve Thee to the end;
Be Thou forever near me, my Master and my Friend;
I shall not fear the battle if Thou art by my side,
Nor wander from the pathway if Thou wilt be my Guide.
O let me feel Thee near me! The world is ever near;
I see the sights that dazzle, the tempting sounds I hear;
My foes are ever near me, around me and within;
But Jesus, draw Thou nearer, and shield my soul from sin.
O Jesus, Thou hast promised to all who follow Thee
That where Thou art in glory there shall Thy servant be.
And Jesus, I have promised to serve Thee to the end;
O give me grace to follow, my Master and my Friend.
Violet Kritzinger is op 18 Oktober 1922 te Calitzdorp (destyds SWD) gebore. Sy was die oudste dogter van wyle Archibald George Sterley (09/06/1896 – 22/09/1988) en Johanna Cecelia (nee Oosthuizen; 12/06/1902 – 15/08/1990). Hierdie gesin was sewe kinders ryk: drie broers (Eddie, Alfred en George) en vier susters (Violet, Irene, Joan en Winnie).
Na voltooiing van haar skoolloopbaan op Calitzdorp werk Violet as ‘n winkelklerk vir wyle Mnr. Rudman by Miller Stasie, naby Klipplaat. Mnr. Rudman vertel haar van die Sabbat en onder leiding van die Heilige Gees (deur ‘n droom), word sy van die Sewende Dag Sabbat oortuig. Spoedig hierna word sy gedoop. Hierdie getuienis word later deur Leraar Hanson gebruik om jongmense tot oortuiging van geloof te inspireer. Violet bly lewenslank getrou aan haar besluit om die Here te volg, en inspireer nie slegs haar eie familie nie, maar ook ‘n menigte van kennisse en vriende om dieselfde te doen.
Op 12 November 1940 word sy in die eg verbind met Johan Andries (Dress) Kritzinger te Port Elizabeth. Hierdie egpaar vestig hulle op die plaas Somerset’s Gift te Nuweplaas in die Oos-Kaap. Uit die huwelik word agt kinders gebore: vyf dogters (Cecily, Irene, Maria, Edwina en Leona) en drie seuns (André, George [15/10/1951 – 14/08/2012] en Jannie). Violet se lewensjare op die plaas spreek boekdele oor haar vriendelikheid, vlytigheid, kunstigheid, pedagogiek, entrepreneurskap, tuinbou, uithouvermoë, gasvryheid, spaarsamigheid en vrygewigheid. Almal was altyd welkom op die plaas: of dit nou ‘n kort middag- of aandkuiertjie, ‘n naweek, week of selfs ‘n maand of twee was! Daar was geen lui haar op haar kop nie: skoonmaak, verf, kosmaak, kleremaak, lang ure agter die winkeltoonbank, boekhou, rose snoei, blombolle plant, hare sny of krul, vrugte inmaak, plaasbrood bak, botter karring, Dorkas-aande met jellie en vla.... Die lys is nimmereindigend! Almal kan haar ingelegde vrugte, konfyt, spogtuin, selfontwerpte rokpatrone en breipatrone onthou! Haar kinders het nooit ‘n gebrek aan enigiets gehad nie. So kry almal ook die geleentheid om musieklesse te neem en selfs eksamens af te lê in beide prakties en teorie. Violet en Dress sing graag geestelike liedere en koortjies saam met die gesin na afloop van biduur op ‘n Vrydagaand of op ‘n Sabbatnamiddag. Haar kinders kon almal lees, skryf, gediggies voordra en somme maak voordat hulle skool toe gaan. Haar vernuf as Christelike rolmodel tuis, asook vele jare van onbaatsugtige diens as Kindersabbatskool-superintendent, word deur almal onthou en gekoester. Alles het egter nie by haar onmiddellike gesin opgehou nie: haar belangrike invloed as rolmodel het sy ook laat geld tydens die vormingsjare van haar kleinkinders en agterkleinkinders, vir wie sy almal baie lief was.
Gedurende 1978, vier jaar na die tragiese heengaan van haar eggenoot, Dress, op 2 September 1974, vestig Violet haar in Groenvallei, Bellville. Nou was die tuin veel kleiner, maar steeds vol veelkleurige blomme: behalwe dat sy liefdevol na George en Jannie omsien, versorg sy ook haar vader, Archibald, tot kort voor sy heengaan in Huis Esperanza, Strand. Daarna versorg sy op dieselfde onbaatsugtige wyse haar moeder, Johanna. Violet en George bly aan in Groenvallei tot in 2009 en aanbid tot dan getrou te Tygerberggemeente. Hierna gaan woon hulle by Jannie, Elize en hul dogters (Alicea en Nadia) in Somerset-Wes, waar daar vir hulle ‘n liefdevolle tuiste en mediese sorg geskep was. Gedurende die laaste dekade van haar lewe geniet Violet nog dikwels uitstappies in die natuur, woon ‘n opera of twee by, lê besoek af by haar ander kinders, sit en brei in haar sonnige woonstel, verstel of herstel klere, lees die Huisgenoot, kyk TV, kook sop, luister musiek, versorg die hondjies en haar potplante, of geniet haar sonstoepie se uitsig met ‘n glas pienk melkskommel/Ensure. ‘n Hoogtepunt was beslis die viering van haar 95ste verjaardag, waartydens sy nog sterk genoeg was om met ‘n groot groep familie en vriende haar vol lewensjare te kon vier! Daarna volg haar 97ste spesiale herdenking met ‘n kleiner familiegroepie teenwoordig.
Gedurende die laaste drie jaar van haar lewe, is daar merkbare agteruitgang in Violet se gesondheid: ‘n gedeeltelike heupvervanging op 97-jarige ouderdom, diabetes, hartversaking en ligte beroertes. Tog veg sy dapper en behou sy selfs tot kort voor haar heengaan nog haar humorsin. As gevolg van omstandighede bring sy die laaste 19 maande van haar lewe onder die onbaatsugtige versorging van Ria en Gert deur. Hiermee kom daar ook ‘n bonus: om tyd deur te bring met baie van haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Sy geniet hierdie voorreg, toon dankbaarheid vir haar versorging, is rustig en weerspieël vrede op haar gelaat en in haar gemoed. Sy bly getrou tot die einde en elke aandgebed word verseël met ‘n kosbare sinnetjie: “en red my tog vir U koninkryk!”. Violet gaan sag heen op Donderdag, 26 Augustus 2021 om 21:45.
Ons sien met verlange uit na die dag van opstanding, wanneer Jesus weer sal kom om ons almal te verenig: dit is baie beslis ons moeder se wens!